JDI IN THE NEWS - 2009

Alicestine October, Seksuele geweld in tronke ‘stu MIV/vigs’ Die Burger - South Africa, July 27, 2009

Kaapstad. - Die omstandighede in die land se tronke is ’n direkte openbare gesondheidskwessie, waarsku kenners.

Die organisasie Just Detention International het in ’n nuwe verslag omstandighede in Suid-Afrikaanse tronke betreur en gesê verkragting daar hou direk verband met die land se MIV/vigskrisis.

Die voorkomssyfer van MIV/vigs in Suid-Afrikaanse tronke is byna dubbeld dié in die samelewing, luidens die verslag.

“Deur sy versuim om dié seksuele geweldspraktyke te beveg, lê die departement van korrektiewe dienste (DKD) weerlose gevangenes die doodstraf op.”

Volgens mnr. Lukas Muntingh, projekkoördineerder van die Civil Society Prisoner Reform Initia­tive, het die DKD nie ’n beleid om seksuele geweld te bestuur nie. Verskeie inisiatiewe “het ’n stille dood gesterf”, het hy gesê.

“Daar is jaarliks tot 200 000 mense wat deur die tronkstelsel beweeg en uiteindelik weer in gemeenskappe beland. As ons die MIV/vigspandemie wil bestuur, sal ons hierop ook moet fokus.”

Volgens me. Sasha Gear van die Sentrum vir die Studie van Geweld en Versoening is daar nie regtig sprake van opvolging van sulke gevangenes ná vrylating nie.

“Daar is nie ’n raamwerk waarin voorsiening gemaak word vir die voortsetting van MIV/vigs­behandeling vir gevangenes wat vrygelaat word nie, maar slegs ’n nota dat hulle na gesondheids­instellings verwys word.”

’n Bewaarder by die Pollsmoor-gevangenis in Kaapstad het gesê oorbevolking in die tronk en bendeverkragtings is algemeen.

“Daar word in sommige kringe aanvaar verkragting is deel van die tronkkultuur. Ek sou graag wou dink tronkverkragting is nié deel van die vonnis nie.”

Luidens syfers wat die DKD verlede jaar uitgereik het, is byna 10% van die tronkpersoneel MIV-positief. Die opname het gewys tussen 20 909 en 25 744 van die 113 567 gevonniste gevangenes is MIV-positief en sowat 6% het sifilis.

Mnr. Ofentse Morwani, DKD-woordvoerder in die Wes-Kaap, het gesê daar is bewusmakingsveldtogte oor MIV/vigs vir gevangenes. “Ons het ook twee vigsbehandelingsentrums by die Brandvlei- en Pollsmoor-gevangenisse.”


Bookmark and Share